Tristan timmer 26 lopies van een boulbeurt

Tristan Stubbs in aksie vir die Delhi Capitals. (Foto: X/IPL)

Tristan Stubbs is bekend vir sy kragspel, maar hy het vandag in Delhi ook gewys dat hy sy beurt met ʼn paar kunstige grenshoue kan inkleur.

Die Suid-Afrikaner het 26 lopies in een van Luke Wood se boulbeurte gemoker en hy het veral met sy hand-oog-koördinasie beïndruk toe hy ʼn paar keer die bal oor die paaltjiewagter se kop gemaneuvreer het.

Hy het uiteindelik 48 onoorwonne lopies van 25 aflewerings gemoker om toe te sien dat die Delhi Capitals 257/4 in hul toegelate 20 boulbeurte teen die Mumbai Indians kon aanteken.

Stubbs het reeds twee vyftigtalle in die Indiese Premierliga aangeteken en sy beste vertoning was ʼn onoorwonne beurt van 71 lopies teen die einste Indians in Wankhede.

Maar die Capitals se blinkste diamant was ongetwyfeld Jason Fraser-McGurk.

Die 22-jarige Australiër speel onverskrokke krieket en hy het nou 84 lopies vanaf slegs 27 balle gemoker.

Fraser-McGurk het altesaam 17 grenshoue in sy blitsbeurt teen ʼn treftempo van meer as 300 geslaan.

Die Capitals-boulers kan egter nie bekostig om op hul louere te rus nie. Veral nie omdat spanne in vanjaar se IPL-toernooi links en regs tellings van meer as 200 lopies aanteken nie.

  • Opsomming van die telkaart:

Delhi Capitals 257/4 in 20 boulbeurte: Jason Fraser-McGurk 84, Tristan Stubbs 48* en Mohammad Nabi 1/20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit van Vrydagmiddag tot Maandagoggend. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.