Waaksaamheid gevra ná bevestigde apokke-geval

(Argieffoto: Unsplash)

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het mense gevra om waaksaam te wees nadat ʼn laboratoriumbevestigde geval van apokke aangemeld is.

Die pasiënt is ʼn 35-jarige Gautengse man wat verlede week positief getoets is.

Die aanvanklike toets deur ʼn private laboratorium is later deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes bevestig, wat dadelik die departement in kennis gestel het.

*Apokke, ook bekend as mpox, word beskryf as ʼn skaars, virale aansteeklike siekte wat veroorsaak word deur die mpox-virus. Hoewel die siekte nie hoogs aansteeklik tussen mense is nie, word dit wêreldwyd wel fyn dopgehou. Dit kan ʼn pynlike uitslag veroorsaak asook vergrote limfkliere en koors tot gevolg hê. Volgens die departement herstel die meeste mense ten volle, maar sommige mense word baie siek.

“Volgens die voorlopige ondersoek en verslae oor die geval het die pasiënt geen geskiedenis van reise na lande wat ʼn uitbreking van die siekte ondervind nie. Die nasionale en Gautengse departement van gesondheid is aktief betrokke en bestuur die situasie ingevolge protokol en nasionale riglyne,” sê Foster Mohale, woordvoerder van die nasionale departement van gesondheid.

Daar word voortgegaan met pogings om enige kontakte van die pasiënt en ander moontlike gevalle na te spoor.

Daar is sedert verlede jaar ʼn voortgesette uitbreking van apokke in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), waar die siekte ook ʼn hoër sterftesyfer het. Dit is in die meeste gevalle egter nie dodelik nie en die gevaar vir die algemene bevolking word as laag beskou, gegewe die lae oordraagbaarheid daarvan.

Die laaste keer wat ʼn apokke-geval in Suid-Afrika aangemeld is, was in Augustus 2022.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel verhoogde waaksaamheid aan waar laboratoriumbevestigde gevalle aangemeld word, asook isolasie om oordrag te verhoed en die siklus van oordrag te verbreek. Grootskaalse inenting teen apokke word nie tans aanbeveel nie, sê die departement.

*Apokke: Die Wêreldgesondheidsorganisasie het in 2022 besluit om “apokke” of “mpox” as die voorkeurterm te gebruik vir wat in die verlede as “aappokke” bekend gestaan het. Die besluit is ná ʼn omvattende konsultasieproses geneem en die gebruik van die woord “aappokke” is oor ʼn tydperk van ʼn jaar gaandeweg uitgefaseer en met apokke vervang. Die besluit is geneem weens klagtes dat dit aanstoot kan gee.

  • Die berig is gewysig nadat dit aanvanklik gepubliseer is om meer duidelikheid oor die gebruik van die term “apokke” te gee. – Red. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Geen probleem nie.
Ek sal n masker dra en my hande vir 20 sekondes lank was.

Loun ·

Niemand in Suid Afrika het nodig om te reis om siektes op te doen nie….. al die ongewenste siektes reis na ons toe oor ons oop grense……

annie ·

Mense bo uit Afrika sal nou eers hierheen stroom met ons hospitale oopgegooi vir gratis mediese sorg. Daar is geen werklike wil om te keer aan die miljoene Afrikane wat vir dekades al hierheen stroom nie. Met ons regering se mediese dienste reeds in erge verval, kan nog ‘n virus so kort na covid vir chaos sorg. Maar die slim Engelse professor sal seker weer weet wat om te doen.

Papsak ·

Mooi gestel Loun waarheid daardie ons grense te oop vir almal om in te kom bravo !!!!!!

Wakkerslaper ·

More MM, moet dit nie eerder aappokke wees nie? Monkeypox (of mpox) in Engels.

daarsdit ·

Loun, 100%, het 13 jaar terug ‘n tropiese siekte opgedoen deur toeriste wat met ons gesels het. Het nou nog nagevolge daarvan, maar ek was die gelukkige een, die ander 2 is oorlede. Was 5 weke in isolasie in die hospitaal en het gelukkig die regte Dr gehad.

J. J. ·

Hierdie werk so reg in die who se hand. Dan kan hulle die land isoleer, hulle is besig om ooreenkomste met lande wêreldwyd te sluit, dat hulle kan besluit oor wat in lande mag gebeur.

Delia ·

Mense, asb. Los nou net die ape en die varke in vrede asb. Lol

Lukas ·

Shame ja, kannie wag om voor Dischem op hulle stoeltjies te gaan sit vir nog so ‘n paar lekker boostertjie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.