NWU-lektor het visier op Cybathlon 2024 | Potchefstroom Herald
Local news

NWU-lektor het visier op Cybathlon 2024

"Ek kon nie verstaan waarom prostese so duur is nie," vertel Ian Thomson oor die oorsprong van sy loopbaan.

Ian Thomson (29), ‘n lektor aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Ingenieursfakulteit en skool vir Elektriese, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese, gaan in Oktober vanjaar aan ‘n Cybathlonkompetisie in Switzerland deelneem. Die Cybathlon is ‘n unieke resies wat persone met fisiese gebrekke of uitdagings die geleentheid bied om hul gevorderde hulpmiddels, wat robotika kan insluit, te toets deur hindernisse aan te pak.

Ian het op 16-jarige ouderdom ‘n traumatiese motorfietsongeluk oorleef maar sy regterbeen moes bo die knie geamputeer word. Hierdie insident het sy lewe handomkeer verander en was die beginpunt van Ian se loopbaan in ingenieurswese. Ian vertel dat die koste om ‘n prostetiese been te bekom ongelooflik hoog is. “My ouers moes skuld aangaan om my eerste prostese te bekostig. Vyf jaar later het ek gelukkig ‘n uitbetaling van die Padongelukkefonds ontvang, wat my in staat gestel het om een van die beste prostese op die mark te kry, wat byna R1 miljoen gekos het. Die tegnologie agter hierdie prostese het my gefassineer, en ek kon nie verstaan waarom dit so buitensporig duur was nie. Dit het my geïnspireer om ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit te studeer, met die doel om bekostigbare, hoëgehalte prostese te ontwikkel,” vertel Ian.

Ian en die eerste proto-tipe.

Ian se hooffokus was aanvanklik op elektriese en elektroniese ingenieurswese, maar hy het later sy meestersgraad se fokus verskuif na mediese tegnologie. “Hierdie studie het ‘n projek ingesluit om ‘n kniestut te ontwikkel wat die rehabilitasie van mense met kniebeserings monitor, wat my ‘n dieper insig in die werking van die menslike been gebied het,” verduidelik Ian. “My meestersmentor het die idee voorgestel dat ons aan die Cybathlon-kompetisie deelneem, waar ons by die NWU aan die ontwikkeling van prostese gewerk het.” Buiten Ian se lektorskap is hy ook tans deel van ‘n navorsingsgroep wat spesialiseer in assistiewe toestelle (gevorderde hulpmiddels soos prostese) wat fokus op die ontwikkeling van prostese en ander mediese tegnologieë. Die mikpunt van die studie is om mense daartoe instaat te stel om ‘n bykans normale lewe te lei. “Ek werk saam met ‘n ongelooflike gedrewe span wat my passie deel om mense te help. Ons span is multidissiplinêr (meer as een studieveld) en bestaan uit ingenieurs sowel as mediese professionele mense. Ons almal verdien erkenning vir ons harde werk en toewyding,” merk Ian op.

Ian en die span wat saam met hom werk.
Ian en van sy spanlede tydens ‘n spanbou-aktiwiteit.

Ian geniet die aktiewe lewe en beoefen verskeie buitemuurse aktiwiteite. “Ek is passievol oor stap, bergfietsry, skiet, en visvang. Ek glo sterk daarin om fisiek aktief te wees en my spiere te versterk, wat nie net my loopvermoë verbeter nie, maar ook help om ongemakke soos rug- en heuppyne te verlig. Daarom spandeer ek ten minste vyf dae per week in die gimnasium.”

Ian is opgewonde oor die geleenthede wat die Cybathlon aan die ingenieurspan bied. “Dit is nie net ‘n kans om ons tegnologie teen die wêreld se beste te meet nie, maar ook ‘n platform om te wys wat bereik kan word, selfs met beperkte hulpbronne. Ons doel is om te bewys dat Afrika, ten spyte van finansiële uitdagings, innoverende en lewensveranderende tegnologie kan voortbring wat ‘n betekenisvolle impak op die lewensgehalte van individue met gestremdhede het.”

Die span maak hulself slaggereed deur die apparate breedvoerig te toets vir hindernisse, maar ook alledaagse lewe. “Ons het ‘n toetsbaan gebou wat soortgelyk is aan dié van die kompetisie, maar ons voer ook toetse uit op staproetes en bergfietsroetes om die betroubaarheid van die been onder verskeie omstandighede te verseker,” vertel Ian meer oor hul toetse. “Deelname aan die Cybathlon 2024 is net die begin. Ons beoog om elke vier jaar deel te neem, en ons ambisies strek verder as net die beenprostese. Vir toekomstige kompetisies, soos die Cybathlon 2028, is ons reeds besig met die navorsing en ontwikkeling van ander assistiewe tegnologieë, insluitend prostetiese arms en rolstoele.”

Ian en die span mik om hoë kwaliteit, bekostigebare hulpmiddels as ‘n volledige reeks aan te bied. “Die ontwikkeling van ‘n prostetiese arm en gevorderde rolstoeltegnologieë sal ons in staat stel om ‘n meer omvattende bydrae te lewer aan die verbetering van mobiliteit en onafhanklikheid vir gebruikers wêreldwyd,” merk Ian op. Deelname in hierdie kompetisies gee vir die span waardevolle terugvoer vanaf die internasionale gemeenskap.

“Almal gaan deur moeilike tye, maar deur hierdie uitdagings te oorkom, kan ons leer om ons swakhede in sterktes om te skakel. Dit is belangrik om jouself te omring met mense wat jou drome ondersteun. Sonder die steun van my vrou, familie, span, en vriende, sou ek nie die geleentheid gehad het om my eie prostese te ontwikkel en ‘n verskil in die lewens van ander te maak nie,” is Ian se boodskap aan lesers

Related Articles

 
Back to top button