Oudleerder vereer met Naledi-teaterprys toekenning | Parys Gazette
Local newsNews

Oudleerder vereer met Naledi-teaterprys toekenning

Danelle se kleintyd droom was om te sing

Danelle Cronje, oudleerder van Hoërskool Parys, is Maandagaand 20 Mei by die Naledi teaterpys-toekennings vereer as die Beste vroulike byspeler in ‘n musiekspel teaterproduksie vir haar rol as die karakter Oz in die  produksie, We Will Rock You, aangebied deur Showtime Management

Die produksie was saam met The Promise en A Midsummer Night’s Dream onder die groot wenners van vanjaar se toekenings wat in die Joburg-teater in Braamfontein, oorhandig is.

Oor We Will Rock You

Die bekroonde musiekblyspel van Ben Elton, met musiek van Queen, het ‘n volledige Suid-Afrikaanse rolverdeling, orkes en produksiespan.

Die openingsvertoning was in Oktober 2022 in Manilla in die Fillippyne. Nadat daar in Asië getoer is, is dié produksie Vrydag, 10 Maart 2023 die eerste keer voor ‘n Suid-Afrikaanse gehoor in die Teatro by Monte Casino opgevoer.

Foto: Christiaan Kotze.

Danelle se kleintyd droom was om te sing

Danelle het in ‘n onderhoud met Gazette  vertel dat sy kleintyd al wou sing.

Sy was pas klaar met haar studie toe sy ingesluit is in die ensemble vir die Afrikaanse Pantonime, Doringrosie.

Danelle het toe in Maleisië gaan sing as een van net twee Suid- Afrikaners in die sanggroep van 20th Century Fox & Genting World Theme Park se Workshop Group. Danksy haar liefde vir reis het sy later ‘n kontrak op die Duitse TUI Cruises se Mein Schiff passsasierskepe aanvaar waar sy agt maande lank gesing het, en die kans gehad het om ook dele van die wêreld te sien wat jy nie andersins sou sien nie/

Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy die rol van Baby Cangaroe in Seussical vertolk wat deur &CO by die Lyric Theatre in Golf Reef City opgevoer is, en is sy ook in ander produksies gehoor.

Maar toe roep Covid halt vir die bedryf. Vir Danelle was dit asemskep-tyd by haar ouers, Danie en Trudie Cronje van Parys, wat steeds haar grootste ondersteuners is, naas haar destydse musiekonderwyseres, juffrou Marli Kruger, en haar kindertyd dans- instruktrise, Elrine Kotze. “Dit is hulle wat my laat besef het dat ek my droom om te sing kon najaag,” vertel ‘n borrelende Danelle.

Dan vertel sy van die Bus of Hope ervaring wat sy saam met ander sangers in Covid aangepak het om vir essensiële werkers by hospitale te gaan sing, Die onbeskryflike hoop wat dit vir mense gebring het, sal my altyd bybly, sê sy.

Hoewel We will rock you al in 2019 op haar pad gekom het na ‘n video- oudisie, het Covid telkens veroorsaak dat die vertonings aangeskuif moes word, maar die vervaardigers het vas gestaan – uitstel, beslis nie afstel nie.

Foto: Christiaan Kotze.

So het die dag uiteindelik aangebreek dat die groep van 27 wat almal Suid-Afrikaners is, in 2022 vir vyf weke in die Kaap kon repeteer, vir die Brits en Suid-Afrikaans vervaardigde produksie – die eerste groot toerende produksie na Covid wat teatergangers se asems weggeslaan het.

Related Articles

 
Back to top button